top of page
Search

Verlore en Gevind

  • Writer: leonie
    leonie
  • Dec 26, 2019
  • 4 min read

Ons December vakansie breek aan en ons beplan al lank vir ons vakansie na Botswana, die opgewondenheid om 'n nuwe land vol wild en pragtige natuur te ontdek is al lank 'n droom, die trokkie is gepak en na 'n paar dae deur die Noord Kaap ry ons die Kgalagadi se Twee riviere kamp binne.


Ons moet twee aande in die park bly aan die SA kant voor ons mag oorgaan na Botswana, ons kry plek in die Twee riviere kamp en spring sommer dadelik in die swembad, want hier is dit baie warm, die barometer styg sommer vroegdag al tot by 45 grade celsius. Op dag twee gaan teken ons uit SA uit en in Botswana in , maar gaan eers more die grens oorsteek (wat basies 'n droe rivier loop is) waarna ons ingeboek is in die Botswana kant van die park Matopi 1. Dus het ons 'n hele dag om die Kgalagadi deur te ry en wilde diere te kyk ons kom op heelwat diere af.


meeste van hulle soek soos ons koelte en water in die snikhitte dag


as jy die leeus so van nader bekyk besef jy hierdie katte is nie jou speelmaats nie


groot en klein deel die bosveld en dit is 'n ongelooflik om almal in hulle habitat te ervaar


ek wonder soms wie is die nuuskierigste ons of hulle


daar is 'n paar ongewones wat meer soos blare lyk




en ander wat hulle afstand hou


na 'n dag van son en natuur vind ons lafenis in die kamp



Vroeg die 20ste December slaan ons kamp op want vandag gaan ons die grens oorsteek na Botswana, dit val so mooi op my 45ste verjaarsdag, als gepak en ons vat die pad na Nossob waar ons moet uit teken en dan deur die rivier na Botswana en ons eerste kamp by hulle in Matopi 1



So 16 km buite Nossob raak die sand dik en trokkie sukkel, oor die derde bult wil hy nie klim en ons besef ons gaan moet terug draai. Met 'n verkeerde draai na links vind ons ons kniee diep in die los sand 11 uur in die hitte van die dag , tussen die wild , nou sal daar uitgeklim moet word, want die trokkie gaan nie homself uithaal nie.


Megan moet uitkyk vir diere, want ons het mos nou gesien hier is leeus in die geweste, ek en Wes probeer als in ons vermoe, maar die winch is te kort en die verlenging met die ratchet strap bly afbreek. Toe die koelte en aandlug oorkom besef ons ons kamp hier vanaand. Ons trek als toe en luister die nag geluide, ons het die rus nodig en glo en vertrou more sal daar hulp kom of ons sal uitkom.




Vroeg Saterdag oggend 5 uur al word ons wakker, dis nog te donker om uit die veiligheid van ons trokkie te klim want dit is koel buite en die diere beweeg nog rond, so net na half ses waag ons dit buite en begin weer met die dag se planne om die voertuig uit die sand te kry, na ure se grawe en besef dat ons water gaan opraak, bak die son ons stukkend. Die son is ons grootste vriend en vyand, die hitte hou die diere weg sodat ons kan grawe, maar dit put ons ook so uit dat die werk maar stadig vorder, geen voertuie kom verby, jy verbeel jou later jy hoor een aankom dan is dit net die kompresor van die yskas wat jou vals hoop gee. Dit raak namidag en ons besef ons gaan nog 'n aand kamp in die wild, dis nie meer kamp nie maar voel nou al meer soos oorlewing.


die donker vou om ons toe, dit voel of ons nou al te lank staan, die diere het hul afstand gehou tot nou toe, maar hulle raak ons gewoond, die rooi jakkelse het al nader verby begin beweeg vandag, hulle kom agter ons is banger vir hulle, as hulle vir ons. My dogter maak my wakker mamma hier is iets hier buite, iets stamp, stamp in die donker nag teen die trok. Jy hoor 'n gekrap teen die grondseil. Ons hou mekaar styf vas en in doodse stilte vra ons hulp van ons skepper om asb nog 'n nag oor ons te waak. Dis 5 uur Sondag oggend en ons al drie staan op met die besef dat vandag moet ons hier uit, ons senuwees is gaar van die nag se gebeure en ons wil huistoe. In die nag het 'n Hiena ons kombers gesteel wat ons op le om te grawe (om skerpioene te vermy) ons grondseil is 'n hele stuk uit gevreet, en daar le groot kat spore om die trok.


baie gedetermineerd, grawe en winch ons stukkie vir stukkie nader aan die pad,ons skroef later ons kas deure af en druk hulle onder die wiele vir ekstra traksie, by 11 uur bak die son ons alweer stukkend en terwyl ek daar staan toe onder die rooi sand van grawe, vuil en vol sweet hoor ek 'n geluid, ek wil dit amper afmaak as die yskas maar toe sien ek die Landcruiser oor die bult aankom vir die eerste keer in drie dae kom daar 'n voertuig aan, die trane loop oor my wange en die histerie stoot op, nog nooit was ek so bly om mense te sien nie.

Frik en Alide Heine van Durbanville klim uit en bied onmidelik vir ons 'n koue bier aan, Met Frik se ervaring en vernuf het hy ons trokkie binne 'n uur terug op harde grond. Ons het 'n duur les geleer en keer nou eers terug huistoe die nagmerie begin al amper voel soos die grootste avontuur van ons lewe , maar die trane le maar nog vlak as ek dink wat kon gebeur het.



 
 
 

Recent Posts

See All

Comments


ofline locations

  • facebook
  • twitter
  • linkedin
  • generic-social-link

©2018 by TrokkieTrips. Proudly created with Wix.com

bottom of page